Beskrywing
1) ANGELUS (02:29)
(Bloemhof)
Aandgebed. Hier kom die nag, en so ook ontelbare verhale.
* LET WEL: Sodra jy op die knoppie druk sal die liedjie oopmaak in sy eie venster. Klik op die drie vertikale dotjies op regterkant van die Liedjie-speler om die lied af te laai.
2) TONIGHT IS WHAT IT MEANS TO BE YOUNG (05:21)
(Steinman)
Jim Steinman, die koning van rock-opera wat vir Meat Loaf en Bonnie Tyler groot treffers besorg het, behoort ook vir dié een onthou te word. Dis vol drome, nes die boek.
3) SHE’S A MYSTERY TO ME (03:44)
(Hewson/Evans)
’n Liedjie wat die geheimsinnige, soms gevaarlike vrouekarakter in die boek reflekteer, en die droomdimensie waarin sy bestaan.
4) LE CIEL NOUS FAIT RÊVER (02:17)
(Smet/Salvet/De Roubaix)
“In die wolke vergeet ons al die sorge van die wêreld. Terug op aarde kan ’n nuwe liefde ons vriendskapsbande toets, maar gou keer ons terug na ons lugavonture.” Temalied van die vlieënier-aksiereeks Mirage uit die vroeë dae van Suid-Afrikaanse TV.
5) SHE TOOK MY SOUL IN ISTANBUL (05:03)
(McGee/Almond)
Die Ooste in al sy verleidelike, soms donker glorie. Die begin kom uit Rimski-Korsakof se simfoniese suite Shahrazad.
6) SIN MIEDO A NADA (05:14)
(Ubago)
Dit is Spaans vir “bang vir niks nie” en gaan oor iemand wat al die skanse wil afbreek – wat niks tussen hom en die een vir wie hy lief is wil laat staan nie.
7) I DIE: YOU DIE (06:54)
(Carpenter/Numan)
Dit was pret om drie skynbaar onversoenbare musiekstukke saam te gooi en ordentlik te roer: regisseur John Carpenter se temalied uit Halloween, synth-pionier Gary Numan se treffer I Die: You Die en ’n Gregoriese drinklied.
8) O TAXYDROMOS PETHANE (03:51)
(Hadjidakis)
“Die posman is dood. Hy was skaars sewentien. Wie sal my nou die pad van drome wys? Want ek is saam met hom dood.” Dit is geskryf om deur ’n meisie gesing te word, maar ek het gevoel dit kan net so maklik ’n pa wees wat oor sy seun treur.
9) TEMA UIT PSYCHO (02:11)
(Herrmann)
Ek wou twee dinge doen: van die draaiboek se slimste dialoog bywerk, en van die partituur afwyk vir ’n nog meer versteurde effek as op die oorspronklike klankbaan.
10) VIENNA (04:40)
(Cann/Cross/Currie/Ure)
Wanneer ’n liedjie as die hoogtepunt van synth-pop beskou word, is die enigste manier om dit “oor te doen” deur regte instrumente te gebruik.
11) LLORANDO (a cappella) (02:44)
(Orbison/Melson)
’n Spaanse verwerking van Roy Orbison se Crying. Twee van die drie stemme is myne.
12) IL MONDO (03:10)
(Pes/Greco/Meccia/Fontana)
Dalk die grootste Italiaanse popliedjie van alle tye, en die Italianers ken mos van goeie musiek skryf. Ek doen dit op ’n meer klassieke manier omdat die wysie dit regverdig.
13) WAG VIR MY (03:27)
(Bloemhof)
Ek het darem nie ’n Afrikaanse een vergeet nie, al gaan dit steeds oor verre lande.
14) SHAHRAZAD (01:58)
(Bloemhof)
Dit is hoe ek my verbeel sy klink – of eerder hoe dit moes voel vir iemand wat gelukkig genoeg was om ’n duisend en een nagte na stories uit haar mond te kon luister.
15) HEMINGWAY (Ode to Africa) (03:23)
(Sarstedt)
Ek het dit hoofsaaklik ingesluit oor die geografiese verwysings – maar ook, hoe kan een skrywer ’n liedjie oor ’n ander skrywer weerstaan?
16) FRIEDEN (03:56)
(Maffay/Kunze)
Gé Korsten se lig-klassieke interpretasie was een van die min plaaslike weergawes wat op ’n oorsese treffer kon verbeter. Niemand het sy stem nie en nog minder het ek opera-opleiding, maar ’n mens kan Peter Maffay se oorspronklike visie nuwe skakerings gee.
17) LAS VEGAS (03:30)
(Murray/Callander)
Een van twee liedjies wat ek met my Covid-benoudheid en al opgeneem het. Dit moet juis nie “mooi” gesing word nie.
18) THE RIDE TO AGADIR (04:46)
(Batt)
Lied oor die Marokkaanse verset teen die Franse koloniale magte, met sterk Berberse en Arabiese elemente.
19) MARIEKE (02:12)
(Brel/Jouannest)
“Zonder liefde, warme liefde, sterf de zomer, de droeve zomer, en schuurt het zand over mijn land, min platte land, mijn Vlaanderland.”
20) DIE MIDDEL VAN ’N NAG (04:08)
(Piazzolla)
Die klassieke Argentiniese komposisie Libertango, op sy kop gekeer vir ons doeleindes.
21) BALLAD OF THE NAZI SOLDIER’S WIFE (04:06)
(Brecht/Saltzman/Weill)
Sarkasties, ironies, komies, tragies. Ek wou dit laat klink soos ’n lewendige opname in ’n rokerige kabaret-kroegie.
22) AMSTERDAM (02:29)
(Smit/Alberts/Verwey/Smit)
Elke slag as ek in dié stad kom – nie onlangs genoeg nie – maal hierdie liedjie in my kop. Dit vat Amsterdam se uitbundige gasvryheid goed vas.
23) BOHEMIAN RHAPSODY (a cappella) (05:23)
(Mercury)
Jy kan Freddie Mercury dit nie nadoen nie – soos uitstekende sangers wat saam met die oorblywende lede van Queen opgetree het al moes leer. Jy kan dit slegs anders aanpak.
24) ROME (04:27)
(Meinunger/Siegel)
Ek het hierdie een verkort en wou dit ’n bietjie van sy Eurodisco-bande bevry. Maar ook nie te ernstig raak nie.
25) POLYUSHKA POLYE (02:20)
(Gusev/Knipper)
Die lirieke van hierdie befaamde Russiese lied beteken rofweg: “Die helde van die Rooi Leër ry oor die veld. Die meisies treur nou, want hulle geliefdes gaan lank weg wees.” Ons hoor daardie helde se perde verbygalop en in die verte verdwyn …
26) SOMMAREN DU FICK (04:15)
(Andersson/Ulveaus)
Ek het dit benader nie as ’n liedjie oor ’n verlore geliefde aan wie die verteller op ’n dag dink nie, maar ’n skielike besef van wat die noodlot jou destyds ontneem het. Nou weet ek Sweeds is die moeilikste taal om in te sing…
27) D-DAYS (05:02)
(Tsereteli/Varenka/O’Connor)
Hazel O’Connor se New Wave-treffer oor dansvloer-hedonisme, Decadent Days, herverbeel as kommentaar op die vorige eeu se Rooi Gevaar – en heel gepas ingelui deur Josef Stalin se gunstelinglied, die Georgiese melodie Suliko.
28) DIE SON KOM OP OOR AFRIKA (07:55)
(Bloemhof)
’n Duisend en een nagte se reise na verre oorde is verby. Jy ontwaak, terug in Afrika. Ek wou ’n stamgesang-gevoel bereik, maar ook die vroue-element behou wat aan die hart van die boek lê.